JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief/Blog


2009-02-23
Stand van Sake teen 18 februarie 2009


Gegroet 1977 Matrieks en Leerkragte van Empangeni Hoërskool!
Vandag gaan ek my gedagtes laat vloei en neerskryf soos wat dit in my kop inkom. Kom ons kyk of ek die kreatiewe skryfkuns in my kan wakker maak; hopelik sonder spelfoute.

Eerstens wil ek baie dankie sê vir die komplimente wat nog steeds instroom, ek waardeer dit opreg. Dit verskaf my groot bevrediging as ek weet dat julle die poging geniet. Julle samewerking verskaf my energie en groot genot. In hierdie verband is dit vir my baie belangrik om vir Sandra Botes, wat as my sogenaamde persoonlike assistent daar vanuit PE optree, te bedank. Dankie ook aan Hennie, hy help my om die gebruikersname en wagwoorde toe te ken asook met die oplaai van foto’s. Rene se werk kom nog. Sy gaan ons help met die insamel van inligting met betrekking tot verblyf en logistiek, nader aan die reünie-datum. Gerhard van den Berg gaan ook tot groot hulp wees in hierdie afdeling. Laastens, baie dankie aan julle wat deelneem deur saam te klets en om name en kontakbesonderhede aan Sandra deur te gee.

Die idee het met ‘n geweldige klomp energie weggespring en natuurlik sal ons dit so wil behou. Ons planne moet net nie opraak nie! Ons voel tog effens bekommerd oor die gebrek aan deelname van die mans se kant af. Miskien is ons te haastig en bederf, gedagtig aan die spoed waarteen ons begin het. Ons moet ook in gedagte hou dat die meeste van ons werk en dit tydsgewys nie altyd moontlik is om net voor die rekenaar te gaan sit nie. Sodra ons kinders van die toepassing bewus raak, sal hulle ons dalk eersdaags kan leer hoe om die selfoon te gebruik om toegang tot die webwerf te kry. Dit is regtig goedkoop om ons webwerf met jou selfoon te besoek. Terloops, die selfoonbesoeke is besig om die rekenaarbesoeke in te haal! Daar is baie goeie redes hiervoor; die webwerf juis so saamgestel dat dit vriendelik vertoon op selfone. Sommige mense mag nie hulle werkgewers se rekenaars gebruik om webwerwe te besoek nie, dus kom die selfoon in sulke gevalle handig te pas.

Ek het reeds voorheen genoem dat die afdeling wat die meeste besoek op ons webwerf word, die “klasmaats 1977”-skakel is! Ironies genoeg is dit die onvolledigste afdeling! Ek het nie geweet dat hierdie afdeling soveel aandag gaan trek nie, maar daar het julle dit! Hierna volg die nuusbrief-skakel en dan die fotogalery. Ons totale besoeke - selfone en rekenaars gekombineerd - gaan hierdie maand verseker meer as verlede maand wees. Natuurlik is dit ook so dat baie van die besoeke nie net tot ons eie 1977 matriekmaats beperk is nie, die publiek besoek dit ook. Dit is egter goed so, want op dié manier versprei die woord. Die kletskamer is uniek. Dit is die grootste kletskamer in ons maatskappy se kliëntebasis! Kyk ek na die kletskamer en die inhoud daarvan, besef ek die waarde van die inhoud en hoe belangrik dit is dat dit bewaar moet word. Dit bring my by die volgende stelling, wat ek reeds aan die begin gemaak het (ek glo Oom Dawie het dit voor my raakgesien!): hierdie webwerf bevat die 1977 jaarblad, die hede en dan ook die toekoms (iets soos Yesterday, Today and Tomorrow). Ek dink byvoorbeeld aan ons kinders wat ook op ‘n latere ouderdom nog steeds na hierdie webwerf kan kyk, wat hulle eie foto’s van vandag sal waardeer soos wat ons dit nou beleef. Ek dink dus dat die webwerf geen einde behoort te hê nie. Dit gaan dus vir my nie net oor die reünie-datum as sulks nie, maar ook oor wat nou en daarna gaan gebeur.

Indien ons nie ‘n reünie saam sal kan hou nie, dink ek het Sandra en julle al klaar daarin geslaag om ‘n groot groep bymekaar te kry deur middel van die sogenaamde “mini reünies” wat reeds gehou is en wat nog gaan volg. Die registrasieproses het geweldig vinnig begin (weereens dankie, Sandra!). Dit is definitief nie ek wat julle bymekaar gekry het nie! Ek vat maar net die hele poging binne in hierdie webwerf saam. Die registrasieproses is op die oomblik ietwat stadig; ek dink dit raak nou moeiliker, maar ons gaan vasbyt. Ons het met die ding begin en ons gaan dit enduit voer!
Daar is op die oomblik 63 mense gerigestreer. Volgens my inligtig, was ons net so ‘n raps oor die 100 matrieks (Afrikaans- en Engelssprekendes). Ons is dus nou min of meer halfpad met die registrasies. Ek maak op geheue en foto’s staat en nie een is 100% betroubaar nie, Sandra het mos rondgeloop tydens die fotosessies, Pierre Jansen ook! Wat het die twee in gemeen…?

Die stemproses vir die reünie-datum verloop nog stadiger! Alhoewel daar ‘n keuse van datum is, weet ek dat ons nie almal tevrede kan stel nie. Wees verseker dat daar voortdurend aan die reünie-datum aandag geskenk word. Ons wil graag almal tevrede stel. Dit is per slot van sake niks minder as reg om soveel as moontlik mense te akkommodeer nie. Ons kan die vasstelling van die datum nie te lank uitstel nie, want daar is mense wat vroegtydig reëlings moet tref om die geleentheid by te woon; dit sluit vliegtuigbesprekings, verlof en dies meer in.

Ek is altyd in my noppies as ons webtuiste hoog op die lys van die Google-soekengin is. Dit help met die hele opsporingsproses en maak mense bewus van ons; alles word mos deesdae “gegoogle”. Ek oorweeg dit om die lang adres met ‘n korter een te vervang. Die lang adres neem te lank om in te tik, veral op selfone en is doodeenvoudig net te lomp. Ons het aanvanklik die goedkoopste uitweg gekies, maar kostegewys gaan dit my nie armer of ryker maak as ek vir ons ‘n korter naam op die webwerf registreer nie. Al kies ons ‘n korter naam, sal die ou adres ALTYD werk. Mense wat nie kennis dra van die nuwe adres nie, sal ons dus nog steeds op die ou adres kan kontak. Die nuwe adres kan moontlik http://www.ehs77.mobi wees. Die dotMobi agtervoegsel dui daarop dat ons webtuiste ook met ‘n selfoon besoek kan word. Die naam gaan makliker onthou word en ook makliker in selfone ingevoer kan word. Onthou, ons webwerf is nie soos Facebook nie! Inteendeel, ons het hierdie webwerf juis begin omdat dit meer prakies is. Die webwerf verskil in metode van data en foto’s oplaai. Op hierdie webwerf doen ek die oplaaiwerk vir jou, dit is nie soos in FB waar jy dit self kan doen nie. Hierdie toepassing is ‘n generiese toepassing wat werk vir baie verskillende soorte entiteite, waarvan reüniepogings uitstekende resultate lewer. Dit gaan ook tog maar oor beheer en organisering van data.

Onhou, asseblief, om ‘n foto van jou gesig in JPEG formaat aan te stuur. Jy doen dit per epos, direk van die webwerf af, deur net op my eposadres te kliek. Skryf dan ook ‘n kort CV waarin jy jou lewe vanaf 1977 tot vandag toe opsom. Ek sal dit dan vir jou in jou eie ruimte oplaai. Hopelik kan ons dan hierdie gewilde, alhoewel onvolledige, afdeling op datum bring.

Ek sluit af met Leon Badenhorst se woorde: ” Die wedstryd is nou eers halfpad en statistiek het bewys dat die meeste wedstryd in die tweede helfte gewen word!”

Groete

Freddie (18 Februarie 2009)


Terug Terug na bo