JOIN OUR MAILING LIST
Nuusbrief/Blog


2009-01-25
Hennie (Boef) en Freddie se fietstoer in Junie 1977 vanaf Ginginglovo na Rampsgate en terug


Dit was gedurende ons matriek jaar van 1977 in Empangeni Hoërskool. Laat in ons std 9 (1976) besluit ons om laf te raak en iets konstruktiefs te doen gedurende die 1977 Junie vakansie….”after all”, moes ons breek van die koshuis, rus EN sielkundig voor berei vir die rekord en eind eksamens. (asof ons op hierdie stadium daaroor bekommerd was..☺)
Wel, so het ons besluit, die roete gaan wees, spring weg by Freddie se huis in Ginginglove, ry al teen die kus af, deur Durban, (hie-hie,…. hieroor ook later) tot op die grens tussen Transkei en Natal, die suidkus, tot anderkant Rampsgate. Ek (Hennie) moes toe ‘n fiets leen, kon toe ook net ‘n 5-spoed in die hande kry, want kyk, 10-spoed was ‘n “luxury” wat Freddie wel gehad het. Wat neem ons saam- want onthou,- ons is op die fietse. So besluit ons toe op die volgende (gedeel tussen ons):
• 1 pakkie suiker
• 1 pak Pro-Nutro
• 1 ketting en slot (om die 2 fietse mee toe te sluit)
• 2 slaapsakke
• 1 stel hemp, broek, onderklere en kouse
• 1 toilet rol
• 2 bekers en lepels
• “Bietjie” geld
• Benodigdhede vir ‘n pap wiel.
Die toer het ons 9 dae geneem om heen en weer te ry. Die skofte was so ongeveer 60km per dag en ons het so net meer as 600 km gery. Ons het ‘n ooreenkoms gehad dat Freddie net met 5 ratte mag ry om die saamry makliker te maak…en was dit ongemaklik vir hom…hie-hie.
Op die eerste dag het my Ma-hulle ons op pad na Ballitoville langs die pad gekry. Ons het lekker verversings gehad, gerus en die pad toe verder aangevat. In Ballitoville het ons in die parkeer area gerus, met die idee om hier te oornag, en ek was nie links van die regering nie,,,,gaan sommer in die gebou in en vra mense vir kookwater. Wat gebeur toe, met my “charms” en verduideliking van ons toer, bied wild vreemde mense ons plek in hul huis aan om te oornag.
Die volgende dag val ons in die pad, Warner Beach toe (ons volgende oornag plek). Op pad kry Freddie sy eerste teenspoed, ‘n pap wiel. Ons was mos toegerus en maak die wiel net daar en dan reg! In Warner Beach sit ons by ‘n busstop en rus, wonder waar ons daardie nag gaan oorslaap…op die strand, in die spoorweg stasie se wagkamer, parkeer area….wel, toe vra ‘n verbyganger ons of hy kan help? Ons lyk mos so verlore!! Ons verduidelik alte graag waarmee ons nou wroeg. Hy vertel ons van sy vakansie woonstel wat leeg staan en ons is baie welkom om dit vir die aand te gebruik. Ai…weereens is ons gelukkig!
Kwart voor ses die volgende oggend val ons weer in die pad op pad na ons volgende stop, Scottburgh. Ons was skaars op pad, toe moes die polisie ons afkeer. Hie-hie, watter skok. Ons sien toe al hoe slaap ons in die tronk, weet toe ook nie waaroor nie, maar voel sommer skuldig!!! Nee, sê hulle vir ons, ons mag nie met die fietse op hierdie spesifieke pad ry nie (Dit was toe die Nasionale deurpad). Ons sê toe ons sal nie, maar wat….gaan ons luister? Nee, ons besluit toe om verder te ry en wragties, daar trek ‘n tweede polisie voertuig ons af. Wel, ons was genoodsaak ons omtrent 1 km met die fietse te loop totdat ons ‘n afrit gekry het wat ons na die “ou” suidkus pad geneem het.
Die volgende skof was na Scottburgh. Hier het ons by die stasiemeester oornag, juis toe ons vir hom toestemming vra of ons in die wagkamer kon oornag. Hy kon dit nie oor sy hart kry nie en het ons by sy huis laat slaap. Ai, om te dink ‘n mens het daardie tyd sulke goeie mense gekry. Omstandighede het mense vandag hard gemaak en minder laat omgee vir ander!! Ek het ook nog ‘n rugsak moes leen omdat ek self nie een gehad het nie, en diè het vol olie geraak. Ek het baie gesukkel om hierdie sak weer skoon te kry.
Die dag daarna, val ons weg Port Shepstone toe. Gedurende hierdie stukkie skof het ons seker die mooiste natuur tonele gesien, veral in die Umtwalume vallei. Op pad Port Shepstone toe loop dinge vir ons baie skeef. Eerstens ry ons toe ‘n verkeerde pad en kom dit eers agter, na omtrent 1,5 km. Ons moes maar gedweë omdraai en terug ry…..Ons was nie baie ingenoë met onsself nie! Daar het ons seker een van die steilste opdraendes op hierdie toer gekry….die Umzube vallei. Hier het ons maar die fietse teen die steilte op gestoot, was net te steil om te ry! Ai, en van die foto’s wat so langs die pad geneem is, veral die skelm foto’s…iets om te waardeer!
Nou-ja, die laaste skof na die Suide, op pad Port Edward toe. Interessant dat ons teen hierdie tyd die afstande aansienlik vinniger kon aflê omdat ons redelik fikser was as toe ons weggetrek het.Hier het Freddie se tweede problem opgeduik. Weereens ‘n pap wiel. Ons het ook vir een van ons matriek maats hier op Port Edward Karavaan park raakgeloop, Pieter Roos. Hy het sommer ewe fluks ons gehelp om Freddie se wiel (fiets se wiel ☺) reg te kry! Ons het op die vyfde dag (Vrydag) daar rondgery, self af tot op die grens tussen Natal en Transkei.
Ons het toe terug gery noordwaards, Ginginglovo toe. In Durban aangekom, het Polisie ons weerneens voorgekeer, maar diè keer om ons ‘n geleentheid aan te bied deur Durban. Hulle laai ons en die fietse agter in die vangwa en neem ons reg deur Durban tot op die Noordkus. Laai ons af by die Slangpark en daar gaan ons verder. Ons het nie juis baie ver gevorder nie, toe trap Freddie sy fiets se een trap mors af! My fiets se ratte het ook probleme gegee en ek kon glad nie ratte ruil nie. Wel, ons kon toe nie verder met al hierdie probleme nie en ryloop met die Fietse terug Ginginglovo toe. Darem nie te ver “ge-jippo” nie…hie-hie!
Dit was die einde van ‘n wonderlike avontuur! Iets wat ons altyd sal bybly. Wat indrukwekkend was,… ons het nie een keer die slaapsakke nodig gehad nie, want ons het elke aand oornag by vreemde, vriendelike mense…..
Vriendelike Groete
Hennie (Boef) en Freddie

Terug Terug na bo