JOIN OUR MAILING LIST


Na vier wonderlike en sorgvrye studentejare aan die UOVS is ek met Gerhardt Bekker getroud. Vele omswerwinge het ons na 'n pragtige dorpie in die Oos-Vrystaat gelei. Harrismith lê genestel aan die voet van Platberg,  daar waar die hoofpad in alle rigtings lei.  Dit is  hier waar ek my kinders grootgemaak het. 

 Gerhardt is vier jaar gelede noodlottig beseer in 'n vliegtuigongeluk. Ek is baie trots op my twee lieflike kinders, Ané en Reghardt,  wat  albei  in hulle pa se  voetspore volg.  Hulle studeer albei Argitektuur by Kovsies.  Ané is besig met haar Meestersgraad en Reghardt doen sy Honneurs.  

 Ek het myself as hoërskoolonderwyseres bekwaam met Aardrykskunde en Afrikaans as hoofvakke – mev. Powell en mnr. Van Niekerk se “input”. Op die oomblik  leer ek kindertjies om mooi Afrikaans te praat, by 'n Engelse privaatskool hier op die dorp.  Die kleiner klassies,  wonderlike personeel en ouers  maak skoolhou ‘n plesier.  

My leë ure vul ek aan deur te stap en in die tuin te werskaf.  Ek  oefen ook gereeld en het wonderlike vriende. Saans drink ek rooiwyn op my stoep, kyk na die berg en wonder  oor die gang van die  lewe ….

Terug Terug na bo